attorney johan blog avatar

Johan De Jager

ATTORNEY | NOTARY | CONVEYANCER | I B. IURIS

20 September | 2020

Wat gebeur met my minderjarige kinders as ek sonder ‘n testament tot sterwe kom?

Dit is uiters belangrik om ‘n familielid of goeie vriend aan te stel om as voog na jou kinders om te sien indien jy en jou eggenoot gelyktydig te sterwe sou kom. Maar wat beteken dit nou eintlik vir die kinders in terme van die wet?


Enige vererwing wat jou kinders sou toeval in terme van die intestate erfreg (met ander woorde indien jy sonder ‘n testament sou sterf) moet oorbetaal word aan die Meester van die Hooggeregshof se Voogdyfonds en deur staatsamptenare namens jou kind/kinders administreer word.


Selfs al sou jy met ‘n wettige testament te sterwe kom, moet daar spesifieke bepalings in wees om voorsiening te maak dat ‘n verantwoordelike persoon of instansie aangestel word om die kinders se erflating te administreer vir hulle algemene welsyn en opvoeding. Andersins moet sodanige bemakings oorbetaal word aan die Meester se Voogdyfonds. Die Voog word ook deur die Meester van die Hooggeregshof aangestel indien daar nie ‘n spesifieke voog in terme van ‘n testament benoem is nie. Sodanige voog moet dan aansoek doen by die Voogdyfonds vir fondse wat die kinders benodig vir hulle algemene welsyn en opvoeding.


Wanneer jou kinders meerderjarig word (18), is hulle geregtig daarop om hulle erflating van die Voogdyfonds te ontvang. ‘n Mens kan jouself die vraag afvra of dit in jou kinders se beste belang is om op so ‘n jeugdige ouderdom fondse te bekom wat hulle dalk kan verkwis?


Dit is uiters noodsaaklik en in die beste belang van jou minderjarige kinders dat jy ‘n geldige testament het waarin ‘n persoon van jou keuse aangestel word as voog van jou kinders asook ‘n persoon of instansie om jou kinders se erflating te belê en te bestuur. Dit kan ook die voog wees. In jou testament kan jy dan ook die ouderdom bepaal waarop jou kinders die verantwoordlikheid sal hê om die kapitaal van die erflating te ontvang.


Dit kan ook in sekere omstandighede wees dat ‘n testamentêre trust geskep word en trustees benoem word om te verseker dat daar behoorlik na jou kinders omgesien te word wanneer jy nie meer daar is nie.


De Jager Prokureurs het kenners en boedelbeplanners wat al 47 jaar se ervaring het om presies bogenoemde gevalle aan te spreek. Kontak ons gerus op 028 050 1022 of per epos by info@dejagerattorneys.com.